Joune
My geliefde as ‘n wolf
deur: jennybl3u
Jy is gebore in die jaar van die hond
klein en fragiel
sonder tand of klou met ‘n donker pels
sag sag soos skaapwol
jou ma maak jou groot op couscous en pap slyp
jou tande op tarentaalbene sus
jou met rock musiek en babataal
later groei jou hare krul en jou lyf lank en jy
blink uit in tennis en skaak terwyl jy bloei
na skool loop jy weg van die huis en hardloop
saam met die wolwe heelnag hap jy
na woorde om te kou met jou tande wat skerp
skerp word jou ore is satelliete
in jou dertigs sit jy ernstig en mooi in die koffiewinkel op die hoek
ek bedien jou met my woke T-shirt ek is
jou twaalfde slagoffer ons lê nakend
in die nag in jou woonstel se slaapkamer
wat uitkyk oor die park met beelde
van lewensgroot neste en Cecil John Rhodes en stry
oor geweldadige kinders wat haweloos
langs die fietsrakke lê op kartonbokse en sement en haal frases
aan van Audre Lorde en die ysprinses in Frozen
vroegoggend skeur skeur jy my oop om woorde
wat ek gesteel het
te vind en aan die wêreld uit te basuin.
03-08-2018