Joune
Ontsnap Roete
deur: liesekuhn
Ontsnap Roete
-
Sy is vol pienk Sterrie Stumpie,
Gummy Bear, Meltertjie,
onplaasbare rooi drankie,
Tassies en kerswas,
Anna en trane.
In die kar, by die Boer, langs die rivier,
onder die Akker bome; die voogde
van die dorp se geheime.
Sy is vol.
-
Sy ruik die boerewors rolle buite,
die goedkoop slaptjips,
die Bluemix en die bakleiery.
Sy ruik vuil strate en Jan se bloed
op die sypaadjie omdat hy weer
Tshepo se kant gevat het vanand.
Sy ruik.
-
Sy hoor badkamer praaitjies
en ‘n badkamer doop
soos wat die onplaasbare rooi drankie
se towerkuns begin verwaag
en met vurige spoed sy
onstnap roete vind.
-
Sy hoor hartelike drome wat
rond-float en by die deur vas sit.
Sy hoor herre is vir sterre
en klasgee in Sjina
en babas
en trou
en boer.
Sy hoor.
Sy luister.
-
Sy sien haar Pa se boesemvriend
met sy trou ring aan
maar die vrou aan wie hy klou
dra nie dieselfde van nie. -
Sy sien vreemde gesigte
in flitsende ligte -
wat almal op dieselfde tyd dans en droom.
Sy sien hande wat smelt op
onbekende lywe, sonder toestemming
en sonder passie,
blatant onder die invloed van
die aand se lus.
-
Sy kyk op na die Koo cans
Suid-Afrikaanse vlag en wonder
of sy hier op die vuil en vaal
bank wil bly.
Teen die einde van die Heuwels
se nuwe liedjie maak sy ‘n besluit.
-
Sy maak haar hare los,
haar veters vas,
die voordeur wawyd oop
en begin om saam met
die drome weg te draf.
02-08-2018
Kraak
deur: liesekuhn
Ek kraak oop om plek
te maak vir die maan,
vir vars lug
en vir ‘n somer lied.
•
Ek loer in om te sien
of my siel nog daar lê,
nogsteeds pienk
en rou
en gereed?
•
Ek ruik die soetheid en kaneel
en heuning.
Ek gly my vingers tussen
die stukkies wat nou hard is.
•
Ek huil oor hulle,
in hulle
en kyk hoe die gekristalliseerde
suiker in iets nuuts ontbind.
•
Ek kraak oop tussen die golwe
en kyk in die oog van die grot.
Ek fluit ‘n kalmerende deuntjie
vir die donker en was tussen
die pienk en die rou
met soutwater.
•
Ek kraak oop om plek
te maak vir die maan,
vir vars lug
en vir ‘n somer lied.
•
Ek kraak oop om plek
te maak vir die son,
vir die see
en vir jou.
11-02-2019